Botox en miskruiers

Ek het vanoggend koffie gaan drink met twee interessante vriendinne. Ons het al drie ‘n gesamentlike liefde vir kuns en dan ook die gewone goed in gemeen soos mans, kinders, huishoudings en die gewone boring alledaagse goete in die lewe.

Ek het belowe om nie hulle name te noem nie – ons woon immers op ‘n plattelandse dorpie. Maar ek het toestemming gekry om so ‘n klein bietjie te skinner.

Die een sal ek dus Mona noem en die ander Mignot. Mignot vertel toe vir ons sy het Dinsdag Botox gekry. “Wat?” “Waar” kom dit asof uit een mond van ons ander twee. Ons skuif nader en kyk na haar gesig en probeer inspuiting merke sien. Ek se toe: “Maar jou gesig wys dan nog steeds emosie”. Blykbaar het sy die plooi tussen haar oe laat inspuit en die volle effek sal eers na 3 – 4 dae wys. Sy moet nou haar gesig uit die son hou en skuif met haar cuppacino na ‘n ander stoel onder die sonsambreel. Was dit seer? Hoe voel dit nou? Sal jy weer gaan? Sy se dit het effens geprik en gebrand en haar vel voel nou styf op haar voorkop. Sover sal sy dit weer laat doen. Ons mag net vir niemand se nie. Haar man hou glad nie van die idee van inspuitings en fillers en plastiese chirurgie nie. Haar plan was om net vir ‘n konsultasie te gaan – toe stap sy gepekel met slanggif daaruit.

Onvermydelik het die gesprek na veroudering gedraai maar gelukkig kon ons daaroor lag. Ek is die jongste van die drie, maar het die grootste armflappe en die meeste grys hare. Hulle het my skoon bang en benoud gehad met “Jy sal nog sien wanneer jy ouer word” – meer vars vrugte, groente en nog meer sonblok vir my.

Mona is ‘n bietjie boheems. Iemand wat edelgesteentes om haar nek dra en hul betekenisse ken (ek ook). Vandag het sy twee goue Scarab Beetles (Egiptiese miskruiers) om haar nek gedra wat “transformation, renewal, and resurrection” beteken. Met ander woorde dit simboliseer ‘n nuwe lewe na swaarkry in jou lewe. Toe ons so praat oor oud word, se Mona ons moet net van binne af gloei dat dit na buite straal en dan verdwyn al die plooie en voue. Ons het na mekaar gekyk en uitgebars van die lag. Yeah right, wie probeer ons flous?

Te vinnig was ons kuiertjie verby, ek moes gaan. Maar so ‘n vroue geselsie doen wondere vir die ligaam en gees. Dit is beter as Botox en miskruiers!

Beautiful in Beaufort-Wes

Ek voel ‘n bietjie nostalgies vandag nadat ek die koerant gelees het en die skrywer so mooi vir B-Wes beskryf het. Ek het sommer trane in die oe gekry om te lees dat mense nog soveel kan omgee vir vreemdes – die omliggende dorpe se winkels is almal uit 5 liters bottels water!

Ek is gebore in B-Wes – maar het in die Kaap groot geword. My oupa en ouma woon steeds daar. Elke jaar as kind het ons daar gaan kuier. Ek was ‘n jaar terug daar met Kersfees. My oupa-hulle het ‘n groot huis en dan nog ‘n buitekamer, so skoolvakansies en kerstye was al die familie en niggies en nefies altyd daar. Heerlik vir ons kinders.

Genade maar daardie karooson brand dor en droog. Jou neus voel droog en dit voel of jou brein kook as jy lank in die son was. Maar kinders voel mos nie die hitte nie. – ons het in elke geval in die sementdam geswem meeste van die tyd. So twee keer ‘n week was die tuin natgelei en daarna word daar water in die dam gepomp. Sjoe, daardie yskoue water wat diep onder die grond uitkom! Ons het altyd onder die pyp gaan staan en die water op ons koppe laat loop – ‘n roomys gee jou nie eers so ‘n groot brain freeze nie!

Ek het onlangs foto’s gesien wat iemand van die dam geneem het wat die dorp van water voorsien. Dit lyk aardig – die bodem van die dam lyk of dit diep skeure het wat baie baie ver onder die grond in loop. Ek kan glo dat dit baie reen sal vat om te herstel na so ‘n droogte.

Op die onderwerp van water – die dorp het nog watervore in die strate. Ek en my broer het altyd bootjies gemaak en dan resies gehou om te sien wie se boot wen. Of net met ons bene geloop in die water en ons verbeel daar is krappe en krewe wat ons tone gaan byt.

Met die binneland wat soveel reen kry en al die vloede en oorstromings het ek gewonder – is dit dalk die inwoners van Beaufort-Wes se gebede beantwoord is, maar die wolke vat net ‘n rukkie om hier onder uit te kom?

My tjorra

My tjorra verdien ‘n blog toegewy aan haarself. Sy is hierdie jaar mondig en verdien ‘n bietjie van ‘n ophef na soveel jare van goeie diens.

Kyk, jy kan nou maar wat se, maar Golfies hou vir altyd en hulle was nog gemaak van harde yster. (Kry mens harde en sagte yster? – jy weet wat ek bedoel). My Golf is ‘n wit 1989 model en ‘n 1300. Dit is al wat ek weet. Ek weet waar om die petrol in te gooi, die olie te check en die water in te gooi. Dit is sover my kennis strek van my kar, die res sal julle maar van die foto moet aflei.

Ek was neentien toe ek haar gekoop het. Karkoop is darem maar ‘n groot besluit en wat het ek geweet? Pa was saam, maar ek het nie juis veel entoesiasme van sy kant gekry nie. Dit was my besluit was die boodskap. Maar ek moes net my onafhanklikheid he, al het dit beteken ek het niks geld vir enigiets anders gehad nie.

O, daardie middag toe ek haar kry, was fantasties. Ek was skrikkerig maar ook vreeslik opgewonde. Vir my was sy splinternuut al was sy tweedehands (en al het ons later agtergekom die radiostasie hak vas by Metro FM).

Kort-kort was ek uit die huis en moes net om die blok gaan ry of het uit die huis gestaan en kyk na haar. My vriendinne was natuurlik groen van jaloesie en wanneer daar erens heen gery moes word het ek gery.

Foeitog, my arme tjorra het nie ‘n afdak of garage gehad nie en moes in die wind en weer buite op my ouers se sypaadjie staan. Nodeloos om te se was daar al ‘n paar keer by haar ingebreek al was daar niks waardevols in haar nie, juis om nie aanloklik vir die skelms te lyk nie.

My tjorra het my met vakansie gevat see toe, dansplekke toe, later na my kerel wat later my verloofde en toe my man geword het. Dit was juis oppad na my verloofde (nou man) se woonstel dat ek my eerste spoedkaartjie gekry het.

Later toe ons getroud was het my kar maar weer buite gestaan want die nuwe mooi kar kon in die garage staan. Pligsgetrou het sy my steeds elke oggend werk toe gevat en net af en toe gevra vir ‘n verweerde onderdeel om vervang te word. Ons het op daardie stadium haar beloon met ‘n splinternuwe enjin – die wit wolk wat ons agtergelaat het elke keer wanneer ons wegtrek, kon nie goed gewees het vir die osoon nie.

So het sy my ook ginekoloog toe gevat vir my sonars en gedeel in my vreugde en trane na die tyd wanneer ek weer moes terugry werk toe. Na baba se geboorte het ons na ‘n groter huis getrek en kon tjorra onder ‘n afdak slaap – vir die eerste keer in haar lewe.

Die bederf vir tjorra het ook nie vir lank gehou nie, ons moes weer trek vir my man se werk. Nou staan tjorra weer dakloos en kry nou eers bitter koud en vreeslik warm.

Ek het haar nou 15 jaar. Die verf is grof en die roeskolle vreet aan haar lyf. Maar wanneer die wit weer wit gemaak is en die swart weer gitswart lyk sy splinternuut. Soos daardie middag toe ek haar gekry het en sy net in Metro FM taal met my gepraat het.

Bon Appetit

Ultimate Survival is ‘n program op Discovery, kanaal 121. Ek ken die kanaal se nommer want dit is my seuntjie se gunsteling program. Dit is een van my gunsteling programme want Bear (Bear Grylls, aanbieder) is so verskriklik sexy.

Vir die wat nie weet waaroor die program gaan nie: Bear was in die SAS (Special Air Service, ‘n spesiale eenheid in die Britse weermag), en is opgelei as ‘n survival expert. Met ander woorde, jy kan hom gaan afgooi in die woestyn, amasone, woude of sneeupieke en hy sal met sy mes en waterbottel kan oorleef.

Wat die program vir ons so interessant maak is die goeters wat hy elke episode eet. Op sy website se hy die ergste vir hom was: “Raw frozen yak eyeballs; camel intestine juice; raw goat testicles; live snake; maggots as big as a hand, pulsating with yellow pus; and giant live spiders”.

Vir my was die ergste die een met die dik, wit, mopanie wurms met die swart pootjies. Dit was ‘n mother van ‘n wurm, omtrent so dik soos ‘n piesang. Toe Bear in hom inbyt, bars die wurm onder oop en dis net groen binnegoed en bolla wat oor sy ken hang. En natuurlik moet hy die ding oopmond kou sodat jy die volle effek kan kry. Dan beskryf hy die smaak en maak ‘n paar opgooi geluide.

Vreemde kos laat my dink aan die buffet waar ek Sondag was. Heerlike boerekos. Ek stap met my bord verby die opdienbakke: waterblommetjiebredie, hoender, lamsvleisies, rys, soet patats, pampoen, gebraaide aartappels en dan …… ‘n bak met ‘n KAKEBEEN met tande in!!!!!!!!!! Ja, dit was afval.

Ek wil dadelik my seuntjie roep en gou-gou ‘n opvoedkundige les inpas en wys hoe lyk ‘n skaap se kakebeen en dit vir hom uithaal om mee te speel. Maar dit sou seker nie ordentlik gewees het nie. Daar is seker mense wat die sousies sou wou afsuig van die kakebeen (eeeeuuuuwwww grossss)!

Foeitog, daar was van die groter kinders wat die afval ingeskep het (die moeviese kakebeen misgekyk het, seker gedink dit is ‘n opskeplepel), en toe terug by die tafel moes hoor die kerrie is eintlik binnegoete. Hulle het maar so rondom die storie geeet.

En wat is die storie met die skaapkop eters? Ja, ja, ek weet die wangvleisies is so lekker sag en so aan en so aan. En die oogbal lekker juicy,en die brein proe soos murg, maar komaan mense, daar is mos beter dele om te eet!

Ek kom noudie dag heel toevallig af op ‘n resep vir tarentaal. Na hy geslag is hang jy hom op aan sy stertvere. Na 3 dae behoort hy af te val – dan weet jy hy is reg om gekook te word. Jy sit dan ‘n wit ronde rivierklip saam met hom in die pot en begin kook. Wanneer die klip sag is, gooi jy die tarentaal weg en eet die klip …..

Ek het darem al geproe hoe proe krokodil – gelukkig nes hoender.

Wat is die weirdste kos wat jy al geeet het?

Dis om van naar te word

Wanneer die boot vasgeanker le en jy moet spring en vashou om op te klim, dan moet jou waarskuwingsliggies jou teen die bors gryp en vir jou se: “As die boot al klaar so woes hier te kere gaan, dink hoe gaan dit op die oop see gaan!”

Twee weke terug het ons met ‘n groot boot na ‘n eiland gevaar. Dit het die oggend gereen en die wind het gewaai. Met die aanboord gaan moes ons klaar stewig vashou want die trappies wat van die boot na die land gaan het heen en weer geswaai – maar wat kon mens doen? Ons was deel van ‘n groep en was aangery met busse en die dag was vir jou uitgele en beplan tot die middag vier uur.

Die eerste vlak van die boot is onderdak met tafeltjies en aangesien dit gereen het, was dit waar ons en vriende gaan sit het. Lekker tee, ‘n anti-naarword pilletjie en ‘n koekie en die orkes begin Creedance Clearwater Revival speel. Die boot wieg gevaarlik op en af en dit is ‘n groot avontuur vir sommiges om die 3 dekke val-val te verken.

Die boot begin stadig weg trek en ons luister lekker na die musiek. Mense loop val val na die kroeg en almal lag en dink als is vreeslik snaaks met die woeste branders buite.

Dan skielik raak almal stil … Soos in almal, gelyk. Al plus minus 200 van hulle.

Ek het skielik in ‘n koue sweet begin uitslaan en die naar kol het kom sit soos ‘n reuse bosluis op my maag en in my keel. Ek het ‘n pamflet al vinniger en vinniger voor my gesig begin waai en gesluk, sluk.

Hier is waar die storie grafies, maar snaaks word – jy is gewaarsku!

5,4,3,2,1 Almal saam: begin katte skiet. Ek het in my lewe nog nooit sulke choreografie gesien nie.

Gelukkig het almal reeds sakkies gehad op daardie stadium – die bemanning het gesien hier kom ‘n ding. Toe is dit net manne en vroue in wit uniforms wat heen en weer hardloop met wit sakkies en servette en botteltjies water. Ek wens ek kon se ons was al halfpad na die eiland toe die dinge begin, maar ongelukkig nie. Die hel het maar eers begin…

Dit was vieslik. Kyk jy by die vensters uit, sien jy ‘n Japanees buite by die reeling staan en dit horisontaal doen. Die vrou wat ‘n ent van hom gestaan het, sien dit, word ook naar en doen dit ook horisontaal (soos wat die wind dit waai).

Oral le mense op die bankies met toe oe, ek het self al twee sakkies vol gemaak en le met my kop op my arms op die tafeltjie, alle menswaardigheid verloor.

Genadiglik het ons die eiland bereik na wat soos 5 dae gevoel het. Ons was bedremmeld en swak, die eiland eksoties en idillies.

En jippie, ons kon nou heerlik deelneem aan die ………… watersport!!!!!! (ag nee)

White water rafting en varke in die pad

Ek het so baie staaltjies om te vertel van ons avonture in Singapoer en Bali dat ek dit maar in ‘n paar aflewerings sal moet doen.

‘n Hoogtepunt was defnitief die white water rafting in Bali.

Moet my nie vra wat die rivier se naam was of in watter streek dit was nie, dit is nou nie goed wat vir my belangrik is nie. Wat vir my belangrik is, is die scenery en die atmosfeer en die avontuur.

In Bali is dit verskriklik warm, laat ek eerder se die humiditeit is verskriklik hoog. Omtrent 80%. Jy kan white water rafting doen in die poel sweet wat om jou voete le! Ek oordryf nie! Dit is verskriklik!!!

Ons het die oggend vroeg van ons hotel, Club Med, in bussies vertek. Hoewel die bussies nie aircon gehad het nie, was dit gangbaar. Die vensters was almal oop en die warm lug het maar so deur gewaai. Tipies toeris het almal maar foto’s geneem so in die ryslag. Jy kon net nie waag om jou arms uit te steek nie, want jy sou dadelik ‘n amputasie gratis gekry het. Die mense ry soos hooligans. Busse overtake scooters, scooters druk voor bussies in, scooters ry teen die verkeer, scooters ry op sypaadjies, gesinne van vier sit op tweesitplek scooters. Motorfietse vervoer goot kanne met katvisse van die een mark na die ander, bakkies met mandjies met varke ry styf teen ons verby sodat ons oogkontak met die varke maak. Wat ‘n vreesaanjaende, senutergende vervoerstelsel!

Elke geval, ‘n uur en ‘n half later kom ons toe by ons bestemming aan. ‘n Avontuur rubberboot plek teen ‘n berg. Ons word ingedeel in groepe van 3 of 4 en kry dan elkeen ‘n gids. Blou safety helmets op die koppe en veiligheidsbaadjies aan en ‘n spaan in die hand. Genade, dis alklaar so warm, maar nou ja “safety first”.

Toe begin die klim bergaf. Laat ek eers beskryf hoe pragtig is die omgewing. Groen, welig, palms, varings, piesangbome,kokosbome. Noem dit en dit groei daar. Die bome strek tot teen die “dak” en ver onder hoor jy die rivier kabbel. Die trappe is almal uitgekap en so hoog dat jy dit met altwee bene moet afklim.

My liewe mens, ek het geweet ek is onfiks, maar presies hoeveel het ek later berou. Dit het gevoel soos Kilamanjaro in reverse. En ek was nog tussen ‘n klomp mansmense, mens het darem jou trots. Toe ek onder kom het ek geweet hoe daardie mense aan die einde van die Comrades voel. Die mense wat se onderste helftes ‘n lewe van hul eie kry. My kniee het net begin hop – elkeen in hulle eie rigting …

Toe ek my sit kry in die rubberboot gaan dit beter. Die gids verduidelik hoe om te roei en wanneer om te roei en ons is heel opgewonde. Ons was omtrent tien bote en almal kwetter soos voels. Ons trek weg en dis smooth sailing. Tot ons die eerste dip of rappid vang. Ek skiet in die lug op en val tussen die oom agter my se lieste. En daar sit ek! My bene is in die lug, en gehak oor my sitplek, en die boot is nat en glyerig. Manlief trek en die oom stoot en ek is bloed rooi (dit was van die hitte, rerig!).

Verder was dit die wonderlikste avontuur ooit! Adrenalien rush!

Ons het in ‘n kloof af geroei en onderdeur watervalle. Ons het halfpad gestop en uit ‘n ‘n kokosneut gedrink en die vleis geeet.

Die einde het gans te vinnig gekom. Ons het die laaste stuk van die roete uit die boot gespring en gedryf tot by die eindpunt – die perfekte einde.

Liefde oor die veergrens

Vandag was die Groot Trek van die diere na Oupa en Ouma in die Kaap.

Daar was ‘n wyfie en ‘n mannetjie van elke spesie en hulle het netjies agter op ‘n Corsa bakkie gepas. Die worsie het in weelde op haar ounooi se skoot gesit en die scottie op die agtersitplek saam met die vyfjarige in ons Mazda.

Ek en my man gaan met vakansie oor twee dae na Singapoer en Bali en so moet Oupa en Ouma babysit vir die vyfjarige en al die dierekinders.

Die hase het maklik gelaai – hulle het sommer in hulle kratte gebly en ons het die gate effe toe geplak.
Die eende vangery was bietjie moeiliker. Hulle is eksoties en raak nie eintlik mak nie. Maar hulle is darem gevang en geboks.

Maar die oulikste was die tarentaal. Ek het al van hom vertel en hoe hy in ons harte gekruip het. Tussen al die rumoer en mense wat hy nie ken nie, wei hy rustig voort.
Ons het die hoenderhen na die stoep gedra en haar daar in haar boks gesit en met packing tape toegemaak. Sy is toe in die bakkie gesit wat ‘n paar tree verder staan.

Raak Tarentula (die tarentaal) ewe skielik upset! Hy hardloop na die stoep en klim die trappe op (iets wat hy nog nooit gedoen het nie) en stap na die plek waar die hoender in die boks gesit was. Toe hy seker was sy is nie meer daar nie, spring hy af en hardloop na die bakkie toe. Toe begin hy met daardie aaklige tarentaal skree gillery. En hy het aangehou en aangehou en heen en weer by die hoender se hok gaan stap en was later in haar hok. Hy het ‘n verskriklike geraas gemaak – ons het later weggery en hy het steeds geskree.

Ons kon dit nie glo nie. Hy is regtig lief vir haar, of geheg aan haar, of dink dis sy ma of sy broer of suster.
Net hy sal weet wat in daardie klein breintjie aangaan.

Ons is eers oor twee weke terug by die huis en wonder wat Tarentula in die tydjie gaan maak. Gaan hy nogsteeds elke oggend sewe uur inklok? Gaan hy dink ons het hom verlaat en die pad vat? Ek kan nie eens vir hom kos buite los nie want die miljoen mossies en tortelduiwe sak soos vliee op die kos neer.

Intussen is ek en manlief terug by die huis, kindloos en dierloos.

Die huis is stil en ons mis hulle verskriklik.

Miskien kom Tarentula darem more vir ons kuier …

Previous Older Entries